Senia in Pretoria

25 november 2019

Die Mabel Malherbe Leeskring is die oudste van die 18 Afrikaanse leeskringe in Pretoria. ’n Leeskring is die ekwivalent van ’n Nederlandse leesclub, formeel georganiseer met ’n jaarprogram wat aan bepaalde vereistes moet voldoen. Ons vergader maandeliks. Meestal lei ’n lid die bespreking. Een maal per jaar vind ’n gesamentlike byeenkoms van die Pretoriase leeskringe plaas met ’n bekende skrywer as spreker.


Op de foto: het leeskringbestuur. Agter: Dione Prinsloo, Gina Malherbe, Annette van Aswegen, Lona Schoeman, Thea Heckroodt. Voor: Monica Hammes, Marna de Klerk, Irene Harms

Die programkomitee versamel voorstelle van lede deur die jaar, lees die nuutste boeke en resensies en beplan ’n geskakeerde program na aanleiding van die volgende vereistes:

1. Taal: minstens vyf Afrikaanse boeke, een Nederlandse boek en nie meer as drie Engelse boeke waarvan een deur ’n Suid-Afrikaanse skrywer.
2. Genre: naas romans ook kortverhale, poësie,  dramatekste en nie-fiksie
3. Relevante temas bv. post-waarheid en fopnuus, migrasie, alternatiewe/opgedateerde geskiedenis
4. Skryftendense wat aan die orde is: metaromans, distopiese/futuristiese verhale, variante/dialekte  van Afrikaans
5. Pryswenners
6. Spesiale vierings van boeke se publikasie of skrywers se verjaarsdae Bv. die poësie van Breyten Breytenbach wat saam met ons 80 jaar oud word.
7. Plek, d.w.s. stories wat op interessante plekke afspeel
8. Intertekstualiteit

Ons leeskring dra die naam van die merkwaardige mevrou Mabel Malherbe (1879-1964). Sy was bekend as die eerste Afrikaanse vrou wat die burgemeester van ’n stad was en later die eerste Afrikaanse vrou wat lid geword het van die Volksraad. Sy het ook in 1919 die eerste Afrikaans vrouetydskrif, Die Boerevrou, begin en dit tot 1931 uitgegee. Die herwinning van die vryheid van haar vaderland en die welsyn van Afrikaanse vroue na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog was haar lewenstaak. In 1912 stig sy die Afrikaans-Hollandse Leesunie in Pretoria. Aanvanklik was Nederlands die voertaal. In
1940, toe die ledetal al oor 100 getrek het, het ons leeskring afgestig. Ons hou die Nederlandse verbintenis steeds lewendig en dit bly ’n unieke kenmerk. Ons klein Nederlandse biblioteek gee toegang tot die Nederlandse letterkunde. Die afgelope vyf jaar is Nachtblauw (Simone van der Vlugt), De trousse (Leo Pleysir), Ik kom terug (Adriaan van Dis), Het diner (Herman Koch), Tirza (Arnon Grunberg) en Ventoux (Bert Wagendorp) bespreek. Nederlandse boeke is nie vrylik beskikbaar in plaaslike boekwinkels nie en moet ten duurste ingevoer word. Sedert 2002 ontvang ons jaarliks ’n donasie van die Stichting tot Bevordering van Kulturele Betrekkingen Nederland – Zuid Afrika vir die doel.

My kennismaking met Senia was ’n gelukkige toevalligheid. Dit gee ons ’n blik op Nederlandse leesclubs, hoe julle funksioneer en wat julle lees. Hartlike dank ook aan Immy Beijer met wie ek sedertdien korrespondeer en van wie ek enkele leeswijzers ontvang het. Dié vind ons besonder nuttig omdat dit insig gee in die manier waarop ’n bepaalde teks benader word en vir die plaaslike kleur. In Suid-Afrika bestaan daar nie ’n organisasie soos Senia nie. Op LitNET (www.litnet.co.za), dié ontmoetingsplek vir skrywers, lesers, uitgewers en ander kultuuraktiviste is daar ’n mingebruikte Leeskringkamer. Origens bied die menigvuldige kultuurfeeste soos die Woordfees op Stellenbosch en die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn uitgebreide skrywersprogramme waar lesers skrywers kan ontmoet. Ook Nederlandse skrywers tree hier op.



Op 14 Februarie het 'n dertigtal lede wat besonder graag Nederlands lees saamgekuier. Ons het stories en moppen vertel en lekker saamgesing aan die Nederlandse liedjies wat ons nog op skool geleer het. Op die foto is Ankie Richter, Wilma Goosen, Fenna Klooster (met boek in hand) en Elzine Smuts. Fenna is 90 jaar gelede in Schouwen, Groningen gebore en het in 1955 saam met haar nuwe man na Suid-Afrika verhuis. Sy is al sedert 1965 'n lid. Ankie en Elzine het die eer dat hulle moeder, wat 'n bekende regsgeleerde was, ook lid was van die leeskring.